Zuid Afrika: Vleisbraai: 'n tipiese Afrikaner man ding

Zuid Afrika: Vleisbraai: 'n tipiese Afrikaner man ding

Die son trek water op die horison, en die manne staan nader. Namiddag in Suid-Afrika is vuurmaak-tyd, sodat daar GEBRAAI kan word. Gewapen met 'n bier in die hand, pak die manne die hout en steek die vure aan. (Hierdie is tradisioneel verbode terrein vir vrouens.) Suid-Afrika het baie goeie weer, en dis al verskoning wat 'n Suid-Afrikaner nodig het om te braai, so ons braai gereeld.

Vrouens is egter nie heeltemal oorbodig in die ritueel van vleis braai nie: die vrouens moet net hul plek ken in die kombuis, waar hulle allerhande watertand lekker bykosse vir die braai moet voorberei. (Hierdie is 'n tipiese Afrikaner man se siening wat seer sekerlik menige Hollandse vrou grensloos sal irriteer!) Hierdie bykosse sluit gewoonlik in slaaie, braaibroodjies, artappelgeregte, braaimielies, pap en sous. Terwyl die geur van braaivleisvure deur die hele buurt trek, praat die manne oor sport (veral rugby), en die vrouens bespiegel oor die nuutste modes, en hul mans se sondes.
 
Brandweer
So gepraat van die geur van braaivleisvure, dis nogal belangrik. Sien, in Suid-Afrika neem ons nie kortpaaie soos die Australiërs en die Amerikaners nie. O nee, geen
nagemaakte gas vure vir ons nie! Jy braai jou vleis op 'n regte vuur, of jy braai nie. Vir die beste kole gebruik ons Hardekool houtstompe. Hierdie unieke hout kom in die bosveld voor waar uiterste weerstoestande die bome temper om hout wat so hard soos yster is te lewer. Dié hout is 'n blikskottel om aan die gang te kry, maar as hy eers brand kos dit 'n hele brandweer om hom te blus. Dis baie algemeen vir hardekool om reg deur die nag te brand, sodat jy die volgende oggend net liggies daarop hoef te blaas om weer jou vuur aan die gang te kry sodat jy water kan kook vir jou oggend koffie.

As die vlamme gaan lê het, en die kole gloei net lekker rooiwarm, is die tyd reg om die finale offerhande te lewer. Hierdie offerhande is natuurlik die vleis wat gebraai gaan word. Enige braaier wat sy sout werd is behandel sy vleis soos goud. Net die beste marinade en speserye word gebruik om die vleis voor te berei. Die mees algemene vorms van braaivleis is skaaptjops, 'steaks' en boerewors. Boerewors is 'n mengsel van gemaalde vleis en keurige speserye wat in 'n skaap se dunderm geprop word. Elke slaghuis in Suid-Afrika het sy eie geheime boerewors resep, en elke slagter glo dat sy resep die beste in die wêreld is. (Nog 'n tipiese Afrikaner man ding…)

Eksotiese vleissoorte
Tydens jou Djoserreis deur Suid-Afrika sal jou busbestuurder heel waarskynlik so 'n tipiese braai vir jou voorberei in die Kruger Wildtuin. By hierdie geleentheid sal die helder sterre en die geur van braaivleis, tesame met die geluide van Afrika as agtergrondmusiek 'n onvergeetlike ervaring uitmaak. Terwyl jy in die vuur staar met 'n lekker glas rooiwyn in jou hand en praat oor al die wilde diere wat jy die dag gesien het, sal die aand alreeds 'n sukses wees nog voordat jy 'n stukkie vleis in jou mond gesit het.

Dis die geheim van vleisbraai.
Die buitelug, 'n lekker drankie en die kuier om 'n knetterende vuur dwing jou om te ontspan en met groot afwagting uit te sien na die hoofmaal. Dan, net om jou verder in die regte stemming te plaas, sal die geur van die vleis terwyl dit gebraai word jou honger aanwakker soos geen aptytwekker op aarde dit kan doen nie. Maar naas hierdie algemene vleissoorte, braai Suid-Afrikaners ook met groot sukses heelparty ander meer eksotiese vleissoorte. Opwindende variasies wat op die Djoserreis tegemoet gekom kan word is 'n vlakvark wat op 'n spit gebraai kan word in Swaziland, of volstruisfilette in Oudtshoorn, wat bekend staan as die volstruishoofstad van die wêreld. Nog 'n baie lekker opsie met verskillende variasies is seekosse. Vanaf vars kreef wat jy self op 'n boot kan uittrek (en dan sommer op die boot gebraai word), tot snoek, geelsert, koningklip, engelvis en verskeie ander eksotiese vissoorte kom in groot hoeveelhede aan die Suid-Afrikaanse kus voor.
 
Al hierdie vissoorte word met unieke resepte en vulsels omgetower in koningskos, wat enige visliefhebber sy vingers sal laat afeet. Agtertuin
Indien jy nie kan wag totdat jy voet aan wal sit in Afrika om hierdie wonderlike ervaring mee te maak nie, kan jy gerus jou eie braai in jou agtertuin hou, met die volgende paar goue reëls as riglyn:

Die Vuur: Maak seker dat jy genoeg kole het. Daar is niks wat 'n braai so beduiwel soos 'n vuur wat uitbrand terwyl jou vleis halfgaar is nie. Hou 'n koppie water byderhand om enige vlamme te blus wat opspring as vet van die vleis op die kole drup. Doop jou vingers liggies in die water en skiet 'n paar druppels water op die vlamme. Moenie te veel water ge-bruik nie, want dit kan die kole laat doodgaan.
Die Vleis: Die eenvoudigste vleis om te braai is skaaptjops. Die rede hier-voor is dat skaapvleis eerder té gaar moet wees as té rou. Dus kan jy dit nie maklik oordoen soos byvoorbeeld 'n 'steak' nie. Skaapvleis kan jy gereeld omdraai, en lekker gaar laat word.


Speserye/marinade: As jy nie toegang het tot spesiale braaispeserye, of 'n braaimarinade nie, hou dit eenvoudig: die vleis moet liggies gesout en gepeper word net voordat jy dit van die vuur afhaal. Moenie enige sout op die vleis sit voordat jy begin braai nie, aangesien dit die vleis sal taai maak. As jy hierdie paar basiese riglyne volg, sal jou braai 'n sukses wees. Indien nie, wel, dan het jy ten minste lekker met vuur gespeel!

Lekker braai.

Alle rondreizen door Zuid-Afrika